9 Februarie 2011: Rorke's Drift-kunshandwerk

Jo-Marie Rabe voor rak vol kunswerke Vandag vertel oudhede-ghoeroe Jo-Marie Rabe vir ons wat presies Rorke's Drift kunshandwerk is én hoe om dit uit te ken.

In 1963 begin Ulla en Peder Gowenius die ELC-opleiding in die klein Natalse dorpie, Rorke's Drift. Dit was die inisiatief van die kerk vir Sweedse sendelinge. Die opleidingsentrum is ingerig vir wewery, pottebakkery en drukkunswerk.

Een van die bekende kunstenaars wat sy opleiding hier ontvang het, is John Muafangejo. Die wewery by Rorke's Drift was van die begin af 'n groot sukses. Die kwaliteit en vakmanskap van hul matbehangsels beteken dat mense dit vandag nog bewonder. Meeste van die weefwerk het 'n aardse palet van grys, room, koper, bruin en wit. Die ingewikkelde geometriese patrone is een van die belangrikste stylkenmerke van Rorke's Drift-weefwerk.

Dit is egter veral die kleipotte wat daar gemaak is, wat die medewerking tussen die Europese kundiges en die Afrika-talent interessant blootlê.

Kleipotte word al vir honderde jare in Afrika gemaak. Kennis is van geslag tot geslag oorgedra, was konserwatief en het weinig verander. Máár, met die Rorke's Drif-pottebakkery is mense juis aangemoedig om hul kunssinnigheid uit te leef en vrolike vorme te skep.

Absoluut alle Rorke's Drift kunshandwerk is gewaarmerk. Die Rorke's Drift-waarmerk is ovaalvormig met 'n blaarmotief daarin. Elke stuk is ook gemerk met die naam van die maker, vervaardigingsdatum asook die waarmerk.

Die bekendheid van hul herkoms is dalk waarom hierdie kunshandwerk vandag so gesog en duur is. Rorke's Drift-kunshandwerk word vandag nog gemaak, maar dit is stukke uit die 70's wat werklikwaar die versamelaars gaande het.
Blou en room Rorke's Drift kunshandwerk pot
Rorke's Drift weefwerk in boek
Jo-Marie Rabe met Rorke's Drift kunshandwerke
Rorke's Drift pottebakkery
 

Lees Ook: