6 Oktober 2010: EPNS-silwer

Jo-Marie Rabe EPNS silver Egte silwer was nog altyd duur, té duur vir Jan Alleman. Gedurende die Industriële Revolusie, het die fabrieksbase dus vinnig maniere gevind om met nuwe tegnologie 'goedkoper' silwer te vervaardig.

Dit lyk soos silwer, maar dit is nie egte silwer nie. Hulle het dit op twee maniere reg gekry. Die goedkoopste manier was om 'n item van koper te maak en dit dan met 'n dun lagie silwer oor te trek. Dié tegniek is in die stad Sheffield in Engeland ontwikkel, en staan dus as ‘Sheffield plate' bekend. Een van die vele Sheffield-merke is 'n effens gryserige kleur. Soms is die silwer só verweer dat mens die rooi koper onder dit kan sien.

Die tweede en meer algemene manier om iets na silwer te laat lyk, was om dit te plateer. Met die EPNS of electroplated Nickel silver metode is silwer met behulp van 'n elektriese stroom op 'n koperbasis gedeponeer. Die maklikste manier om EPNS-silwer te identifiseer is om 'n waarmerk te soek. Kyk uit vir die letters A1, AB of EPNS.

A1 is die beste kwaliteit en verwys na die dikte van die laag silwer. Maar daar is letterlik honderde EPNS-merke. Dit is nooit gestandaardiseer nie en dus kon vervaardigers eintlik enigiets opsit.

Daar is net een ding om in gedagte te hou as jy regte silwer wil uitken. Net egte Sterling silwer is met 'n klein leeutjie gewaarmerk. As jy nié 'n leeutjie sien nie, is die kanse goed dat dit geplateerde silwer is.
EPNS Silver
EPNS waarmerke
Sterling silver
   

Lees Ook: