18 Augustus 2010: Kaapse kombuisware

Houtwatervat Tot so onlangs soos 'n honderd jaar gelede was dit elke huisvrou se realiteit. Houtemmers, balies en vaatjies moes ingespan word om water aan te dra, skottelgoed in te was of om kos in te berg.

Meeste van hierdie items is deur kuipers gemaak en hulle het bykans altyd kiaathout gebruik omdat dit waterdig is. Die kope- en ysterbeslag het 'n praktiese doel gehad, maar soms is dit ook as versiering gebruik om die item mooier te maak.

Items wat met water te doen het, was van toentertyd af baie belangrik. Wateremmers is gebruik om water vanaf die rivier, waterput of reservoir af te dra en was altyd teenwoordig in die kombuis.

Waterbalies is gebruik om die drinkwater te berg en dikwels op 'n staander om dit bietjie hoogte te gee. Uit die vroegste balies moes mens jou water skep, maar nadat koperkrane teen die laat 19de eeu kommersieel beskikbaar geword het, het dit deel van die waterbalie se voorkoms geword.

Teegoedbalies is veral op die trekpad gebruik. Die huisvrou het haar teegoed daarin gebêre en wanneer dit vuil was, sommer die balie gebruik om dit in te was.

Stampkarrings is gebruik om botter mee te maak, harde werk inderdaad. Balies is ook ingespan om kos in te bêre. Die pekelbalie is gebruik om wintervleis vir Kersfees reg te kry. Hamme, soutvleis en biltong is hierin gepekel. Dit was 'n belangrike proses om vleis te bewaar voordat yskaste beskikbaar was.

Vandag is hierdie Kaapse kombuisgerei uiters skaars en waardevol. Dit kan soms selfs duurder wees as 'n splinternuwe yskas, stoof of wasmasjien.


Drinkwaterbalie
Teegoedbalie
Antieke waterbalies
   

Lees Ook: